Wellington Wolves deur na Nasionale Klub Kampioenskap

Wellington Wolves deur na Nasionale Klub Kampioenskap

April 8, 2018 0 By Shafiek Mouton

WELLINGTON Krieket Klub het Saterdag Union Stars van die Suid Westelike Distrikte in ‘n uitspeel wedstryd in Oudtshoorn met 7 paaltjies geklop. Die Wolves, soos Wellington ook bekend staan, het met die oorwinning sy plek in Krieket Suid Afrika se Nasionale Klub Kampioenskappe bespreek.

Wellington se kaptein, Tiaan Cloete het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Zakele Qwabe, aanvangsbouler, het reeds in die eerste beurt met sy tweede bal toegeslaan toe hy die buiterand van Levano Nathan gekry het en Aubrey Philander die vangskoot op tweede glip geneem het. Qwabe het in sy volgende beurt weer die buiterand getref en die slag het Junaid Cassiem (paaltjiewagter) die vangskoot benut. Merlin Masimela was die kolwer.

Tiaan Cloete het die loot gewen.

Tiaan Cloete het die loot gewen.

Hierna het die SWD kampioen egter effens vasgeskop voordat die belowende Kieran Dreyden (3-1-15-1) die deurbraak met die telling op 61 gemaak het. Cassiem het weer die vangskoot agter die paaltjies geneem. Daarna het die paaltjies met gereelde reëlmaat gekantel en is Union Stars uiteindelik vir ‘n skamele 109 in die 30ste uitgeknikker. Aubrey Philander (6.3-2-14-3), Cloete (8-4-14-3) en Qwabe (6-0-29-2) was Wellington se voorste boulers.

Die Bolanders het hul kolfbeurt begin soos manne wat ‘n trein moes haal met veral Mohsin Khan (35, 19 balle 2×4 en 4×6) wat die Union Stars genadeloos gestraf het. Die Wolves, met Warren Groeneveld (43*, 57 balle, 4×4) en Cassiem (24, 29 balle, 2×4) aan die spits, het met hul vennootskap van 48 die wedstryd in die kiem gesmoor en het hulle reeds in die 22ste beurt die teiken verbysteek.

ONS HET HOM! Die Wolves manne vier fees.

ONS HET HOM! Die Wolves manne vier fees.

Volgens die ervare Groeneveld poog die Wolves nou om Boland se naam hoog te hou by die toernooi. “Ons was in 2006 laas by die Club Champs- ek en Cedrick (Williams) is al oorlewendes van daai span. Om na 12 jaar dit weer te doen, veral met die nuwe manier om te kwalifiseer, is ‘n groot prestasie, veral vir ‘n gemeenkaps klub soos ons. Maties het verlede seisoen die Boland verteenwoordig”, aldus Groeneveld.

Hy voeg by dat die spelers mekaar respekteer en lekker saam speel as ‘n eenheid. “Tiaan is ‘n goeie kaptein en Craig (Abrahams) is ‘n great coach. Almal het goeie bydraes deur die seisoen gelewer maar Tiaan se 7/16 teen Young Peoples en Junaid se honderdtal teen Maties verdien spesiale vermelding”, se Groeneveld.

Die Nasionale Klub Kampioenskappe vind vanaf 22-26 April in Pretoria plaas.

Wellington Wolves:

  1. Mohsin Khan
  2. Warren Groeneveld
  3. Junaid Cassiem (paaltjiewagter)
  4. Curtley Louw
  5. Darren Papier
  6. Tiaan Cloete (kaptein)
  7. Aubrey Philander
  8. Cedrick Williams
  9. Zakhele Qwabe
  10. Kieran Dreyden
  11. Byron Fortuin

12. Edward Small

13. Lee Bosman

Craig Abrahams (afrigter)

Piet Bergh (spanbestuurder)

*Cassiem het verlede seisoen vir Roses United Rugby Klub by die Gold Cup (rugby se klub kampioenskappe) as skrumskakel verteenwoordig.