ROWEN RANNA: Van haker tot driedrukker van formaat

ROWEN RANNA: Van haker tot driedrukker van formaat

June 28, 2018 2 By Shafiek Mouton

28 Junie 12h34

ROWEN Ranna, spogvleuel van Roses United, is vir die afgelope paar seisoene ‘n doring in die vlees van menige spanne in die Boland. Hy het verlede seisoen die tweede meeste drieë (18) in die Boland gedruk en spog reeds met 6 drieë na 6 wedstryde hierdie seisoen.

“The Punisher” soos hy alombekend staan, sê sy liefde vir rugby het maar as kannetjie by “touchies” begin voordat hy as haker by Hillcrest Primer en later by Wellington Hoër uitgeblink het. Hy was ook laasgenoemde se eerste span kaptein. “Ek was eintlik gebore om vir Roses te speel. My pa, Ronnie Ranna beter bekend as “Foef”, het destyds vir Roslins en later vir Roses uitgedraf. Ek het verlief geraak op die klub en dit was eintlik maar net ‘n kwessie van tyd voordat ek die Roses trui oor my kop sou trek, sê die 23 jarige maatskaplike werker van beroep.

I BELIEVE I CAN FLY: Ranna gaan kuier agter die doellyn teen Villagers Worcester. Foto: Francio Abrahams

I BELIEVE I CAN FLY: Ranna gaan kuier agter die doellyn teen Villagers Worcester. Foto: Francio Abrahams

Hy het hom kort daarna in die harte van Roses ondersteuners gevestig deur uithaler spel op vleuel te lewer asook sy goeie gesindheid. “Ek het nog altyd gehou van Roses se aanvallende benadering tot die spel en dit pas my soos ‘n handskoen. Manne soos Percy Williams en Denver “Lange” Fortuin beskou ek as helde en om later saam my groot held, Cornal Hendricks, vir Roses te kon speel was defnitief ‘n hoogtepunt in my loopbaan. Ek beskou ook die voormalige Roses vleuel en Blitzbok, Alshaun Bock, en die All Black senter, Ma’a Nonu, as manne na wie ek op kyk.”

HELD: Ranna en Hendricks gee eer tydens verlede jaar se Top 8. Foto: Francio Abrahams

HELD: Ranna en Hendricks gee eer tydens verlede jaar se Top 8. Foto: Francio Abrahams

Op ‘n vraag of hy linker of regtervleuel verkies, antwoord hy vol selfvertroue: “Ek is ewe gemaklik op 11 en 14 en as die afrigters my in die middelveld nodig het, kan ek op binne – en buitesenter ook uitdraf. Ek het onsettend baie in 2015 by die Boland Akademie by coach Stan Raubenheimer geleer maar egter kort daarna ook ‘n terugslag beleef toe ek ‘n week voor die aanvang van die onder 21 Currie Beker my gewrig gebreek het. Ek het teruggegaan, harder gewerk en in 2016 die Boland Amateurspan gehaal en in 2017 ‘n droomseisoen saam Roses beleef en dit geeindig as Boland kampioen en Boland se verteenwoordiger by die Gold Cup,” aldus Ranna.

VEELSYDIG: Ranna is tuis in die middelveld ook. Foto: Verskaf

VEELSYDIG: Ranna is tuis in die middelveld ook. Foto: Verskaf

Hy noem dat hy graag weer Gold Cup wil speel en ook droom van die Kavalier trui. “Die proesel van Gold Cup het ons net meer honger gemaak vir nog. Ek het ook dikwels die seisoen saam Boland Kavaliers se SuperSport Uitdaagbeker span geoefen en as ek aanhou hard werk en drieë druk, voorsien ek geen rede hoekom ek nie die span kan haal nie.”

Slegte nuus vir die skoner geslag is dat Rowen al die afgelope 5 jaar romanties met Wheileen Morris verbind word en as Facebook as termometer gebruik moet word, kook die liefde omtrent tussen die twee liefdesduifies. Sy hart klop ook vuurwarm vir gemeenskapswerk en in die afseisoen is hy een van die jong sport sterre wat baat vind by die NPO “Believe Sports Ministries” wat atlete help om hul volle potensiaal te bereik.

LOVE IS IN THE AIR: Die liefde blom omtrent tussen Wheileen en Rowen. Foto: Verskaf

LOVE IS IN THE AIR: Die liefde blom omtrent tussen Wheileen en Rowen. Foto: Verskaf

The Punisher speel Saterdag vir Roses teen Hillcrest op Newton Park. Die hoofwedstryd skop om 16h00 af.

Hooffoto: Ranna oppad doellyn toe tydens verlede jaar se Gold Cup. -Roswall de Vries