Roses kraai koning in Saldanha Paastoernooi

Roses kraai koning in Saldanha Paastoernooi

April 3, 2018 2 By Shafiek Mouton

ROSES United het Maandag die eerste Transnet Saldanha Super 8 Paastoernooi gewen deur die gasheer in ‘n naelbyt wedstryd met 22-20 te klop. Die Weskussers het rustyd met 10-6 voorgeloop.

Die besoekers is kort voor rustyd ‘n reuse terugslag toegedien toe hul invloedryke vasskopstut, Keenan Abrahams, ‘n rooikaart gekry het nadat hy en die voormalige Roses voorry, Lance Korabie, mekaar onder in ‘n losgemaal mekaar “gegroet” het. Roses se Kelvin Fikster (haker) het ook in die tweede helfte ‘n geelkaart gekry en die Boland Kampioen moes vir 10 minute met net 13 manne klaarkom.

GEGROET: Lance Korabie. Foto: Anver Abrahams

GEGROET: Lance Korabie. Foto: Anver Abrahams

Roses het die wedstryd goed begin maar is verskeie kere kort voor die doellyn gestuit. Die Rose se groter pak voorspelers was deurentyd in trurat by die skrums en het ook om een of ander onverklaarbaarbare rede gesukkel om skoon besit vanaf hul lynstane te bewerkstellig. Dit het hul ritme versteur en Saldanha kon hul weg in die wedstryd terug veg na drieë deur Riaan Louw (vleuel) en hul kranige heelagter, Shilton van Wyk.

Roses kon nie die Baai se doellyn in die eerste helfte oorsteek nie en weens hul geploeter in die vaste fasette was hul genoodsaak om pale toe te skop. Damian Engledoe (losskakel) het heel naweek soos ‘n skerpskutter gekorrel en sy twee strafskoppe in die eerste helfte kon die Rose in die wedstryd hou.

Daar moes met lemoentyd klipharde woorde in die Roses kleedkamer geval het want die Wellingtonners het die tweede helfte baie meer begeesterd voorgekom. Hul inspirerende kaptein en agsteman, Thurlow Marsh, het kort na rustyd onder die pale gaan kuier na hy meesterlik deur Percival Williams (skrumskakel) uitgesoek is. Williams het ook kort tevore die haastige Rowen Ranna (linkervleuel) aan die steelkant weggestuur en na goeie werk deur Kennedy Rorwanna (flank), Johnwen Lewis (heelagter) en Engledoe het ‘n lang, vlak aangee van Williams die Roses kaptein instaat gestel om met twee verdedigers op sy rug die doellyn oor te steek.

Engledoe het in die 59ste minuut sy span se voorsprong vergroot deur met ‘n 39m strafskop te slaag en sodoende die groot tuisskare vir ‘n wyle bietjie stil te maak. Van Wyk het egter terug geslaan met ‘n strafdoel van sy eie in die 65ste minuut en die oorgroote meerderheid van die skare was weer luidrugtig en op hul voete.

Engledoe het egter in die 70ste minuut die voorsprong vergroot om die telling 19-13 te maak. Saldanha het daarna verwoed aangeval en met die gevaarlike van Wyk aan die spits, die Rose se verdediging onder groot druk geplaas. Die Roses damwal het uiteindelik ingegee en Charlie Vraagom (losskakel) het oorgebars na talle vinnige tikskoppies in die Rose se rooi sone. Van Wyk het die doelskop oorgeklits en die tuisskare se koor het weer losgetrek met nog net 6 minute speeltyd oor.

Percy Williams het ‘n bres in Saldanha se kwartgebied geslaan en die tuisspan is by die daaropvolgende losskrum gestraf. Engledoe kon weens ‘n knaende besering nie die strafdoel behartig nie maar Johnwen Lewis het senuwees van staal getoon en die skop waargeneem. Daar was na Lewis se suksesvolle strafdoel minder as ‘n minuut speeltyd oor maar Roses het koelkop gebly en die wedstyd in die kiem gesmoor.

Vir Saldanha was van Wyk deurentyd ‘n bedreiging en het Wesley Adams (agsteman) ook moedig probeer. Sy dartel lopies is egter verskeie kere gestuit deur goeie verdediging deur manne soos Clarence van Wyk , JR Hofmeester (stutte) en Roses se werkesel, Oshlin Lewis (slot).

Volgens Marsh was dit ‘n baie fisieke wedstryd. “Die wedstryd was kliphard en ons het geweet dat hul 16de man (die skare) dit vir ons baie moeilik gaan maak. Hulle het ons defnitief uitoorle in die eerste helfte maar die boodskap was duidelik met rustyd- die leiers van die span moes hand opsteek, voorvat en karakter wys. Ek dink ons karakter het defnitief in die tweede helfte deurgekom”, aldus Marsh, wat na afloop van die finaal as die toernooi se “Droomspan” kaptein aangewys is.

Inspirerende kaptein en agsteman, Thurlow Marsh. Foto: Anver Abrahams

Inspirerende kaptein en agsteman, Thurlow Marsh. Foto: Anver Abrahams

Hy was ook baie trots op sy span se toewyding en dissipline oor die hele lang naweek. “Die naweeek was iets besonders. Die absolute dissipline wat die manne handhaaf het was die sleutel tot ons sukses. Ons het geweet as ons goed doen wat ander nie wil nie sal ons bereik wat hulle nie kan nie. Die Goeie Vrydag kerk diens was ‘n hoogtepunt en God het net weereens sy guns oor Roses gewys toe ons dit die meeste nodig gehad het. Ons afrigterskorps en leiers was briljant en als was perfek beplan”, volgens Marsh.

Roses kon met die oorwinning die beker, goue medaljes asook ‘n tjek van R15 000 saam hul terug neem na Wellington.

*DREAM TEAM Transnet Saldanha Super 8 Easter Rugby Tournament
1. Stephan Marthinus (Saldanha)
2. Divan Joshua (Saldanha)
3. Lance Korabi (Saldanha)
4. Daniel Temm (Saldanha)
5. Ashwell Williams (Roses United)
6. Hyco Jacobs (Wesbank)
7. Mervano da Silva (Vredenburg)
8. Thurlow Marsh (Roses United) (capt)
9. Percy Williams (Roses United)
10. Damian Engledoe (Roses United)
11. Chad Sias (Darling)
12. Deon Taljaard (Tygerberg)
13. Earl Lewis (Darling)
14. Riaan Louw (Saldanha)
15. Shilton van Wyk (Saldanha)
16. Kelvin Fikster (Roses United)
17. Clarence van Wyk (Roses United)
18. Edward Makundayi (Tygerberg)
19. Lester Phillips (Tygerberg)
20. Jean Papier (Vredenburg)
21. Rodwill Jonkers (Wesbank)
22. Fabian vd Vent (Tygerberg)
23. Johnwinn Lewis (Roses United)