Roses en Hillies meet kragte in Wellingtonse derby

Roses en Hillies meet kragte in Wellingtonse derby

June 26, 2018 6 By Shafiek Mouton

26 Junie 2018 18h00

ROSES United en Hillcrest United meet Saterdag kragte in ‘n Wellingtonse derby op Newton Park. Die wedstryd word op dié veld beslis aangesien Pelikaan Park, wat beide klubs se tuisveld is, tans onder konstruksie is.

Roses, die huidige Boland kampioen en nog onoorwonne die seisoen, word as die gunstelinge beskou om die kragmeting te wen. Die Roos het ook 5 van die vorige 6 kragmetings teen Hillies gewen en sal oorgehaal wees om sy onoorwonne rekord die seisoen instand te hou. Hillcrest sal egter die mantel van buiteperd verwelkom en hoop om Roses onverhoeds te betrap.

Volgens Reggie Manuel, hoofagfrigter van Hillies, het sy span die seisoen stadig begin. “Ons het sommer in ons eerste wedstryd teen Bella Vista vasgeval maar die manne het besef dat as ons iets wil bereik moet ons meer doen as wat van ons verwag word. Ons het 10 spelers van 2017 verloor en baie onlangs ook ons invloedryke kaptein, Emile Booysen, aan Saldanha afgestaan. Ons het na die Bella nederlaag egter 5 wedstryde gewen en in die proses 24 punte opgetel,” sê die voormalige Newtons losskakel en afrigter.

VAARWEL: 'n Emosionele Manuel (links) en Booysen se totsiens. Foto: Roswall de Vries

VAARWEL: ‘n Emosionele Manuel (links) en Booysen sê totsiens. Foto: Roswall de Vries

Volgens Manuel is die wedstryd ‘n reuse stryd. “Ek wens ek kan sê dis net nog ‘n wedstryd – iemand wat so dink is defnitief nie van Wellington nie. Dis groot, kliphard en genadeloos en dis defnitief ‘n geleentheid wat Wellingtonners moet gebruik om te verenig – al is ons verdeeld tussen 14h00 en 18h00.”

Franzel September, Roses se direkteur van afrigting, sing egter ‘n ander deuntjie. “Ons beskou die wedstryd as net nog ‘n gewone liga wedstryd. Ons het onsself doelwitte vir die seisoen gestel en hierdie wedstryd is net nog ‘n hekkie wat ons moet oor kom in ons strewe na ons doelwitte. Dis altyd lekker om teen Hillies te speel en die opwinding in die dorp is duidelik te bespeur. Ons wil egter nie die spelers onder enige druk plaas nie en hanteer dus die wedstryd soos enige ander wedstryd.” aldus die voormalige Roses en Boland flank en kaptein.

BRUINSTRUST: Danie Roman (hoofafrigter) en September in 'n ligte luim. Foto: Facebook

BRUINSTRUST: Danie Roman (hoofafrigter) en September in ‘n ligte luim. Foto: Facebook

Roses sal Saterdag sonder sy inspirerende kaptein, Thurlow Marsh, moet klaar kom. Marsh voer die Wes Kaap Polisie aan in die nasionale polisie rugby week. Clarence van Wyk (voorry) of Herman Bailey (slot) sal waarskynlik die Rose in Marsh se afwesigheid lei.

STORMLOOP: Clarence van Wyk op volle vaart. Foto: Anver Abrahams

STORMLOOP: Clarence van Wyk op volle vaart. Foto: Anver Abrahams

Van Wyk en Bailey tesame met Kelvin Fikster (haker) en Kennedy Rorwanna (flank) sal hul stempel voorlangs wil afdruk maar Hillies se Ricky Festus (haker), Carlon Carolissen (slot) en Geoffrey Allies (flank) gaan dit beslis vir hulle moeilik maak. Agterlangs is Percy Williams (skrumskakel), Tyrone Abelse (senter) en Rowan Ranna (vleuel) die Rose met die skerpste dorings terwyl Hillies se Lesley Gertse en Hugh-Reece Claasens (senters) en Jeandre Abrahams (vleuel/heelagter) Roses se manne sal wil laat bontstaan.

KRANIGE SENTER: Hugh-Reece Claasens maak gereed om op te styg. Foto: Roswall de Vries

KRANIGE SENTER: Hugh-Reece Claasens maak gereed om op te styg. Foto: Roswall de Vries

*Die hoofwedstryd skop om 16h00 af.

Hooffoto: Roswall de Vries