Persence driekuns sink Delicious op Boland Stadion

Persence driekuns sink Delicious op Boland Stadion

April 27, 2019 0 By Shafiek Mouton

20h54

‘n BEGEESTERDE terugvegpoging het meegebring dat Hillcrest Unitred sy Witsentraal liga-wedstryd teen Delicious met 38-33 in die Boland Stadion gewen het. Delicious het die wedstryd soos ‘n stoomtrein afgeskop en was binne ‘n japtrap met 26-0 voor.

Hillies, met Ryan Persence (flank) aan die voorpunt, het egter verbete teruggeveg en kon teen rustyd reeds die agterstand na 14-26 laat krimp. Persence het uiteindelik ‘n driekuns aan drieë behaal.

Die besoekers was skitterend in die eerste halfuur van die wedstryd met veral Mario James (slot) wat soos ‘n trojaan verdedig het. Hillcrest is telkemale agter die voordellyn gestuit en kon nie aan die gang kom nie. Oscar Isaacs (binnesenter) het ook beïndruk met sy hardlooplyne en plettervatte in die middelveld.

Die tuisspan het egter in ‘n kritieke stadium van die wedstryd ontwaak en Persence het sy eerste twee drieë in die 35ste en 40ste minute gedruk wat die momentum totaal en al in Hillies se guns geswaai het.

Na lemoentyd was daar net een span op die veld en kon die Wellingtonners hul weg stelselmatig in die wedstryd terugveg. Persence was oral op die veld en verdien ook vermelding vir sy skitterende werk in die lynstane.
Die plaasvervangers Larnelle Maralack (agsteman) en Elton Fortuin (losskakel) het kritieke impakrolle in die tweede helfte vertolk met hul kraglopies en taktiese skoppe.

Hillies het in dié tydperk 24 onbeantwoorde punte aangeteken voordat Martino Baron (plaasvervanger losvoorspeler) in die 76ste minuut vir die manne van Ceres gaan druk het om die telling na 38-33 te laat krimp. Hillcrest moes verbete walgooi in die doodsnikke maar het uitendelik uitgehou om die wedstryd te beklink.

PUNTEMAKERS:
HILLCREST: Drieë deur Persence (3), Daniels, Pietersen (senter) en Maralack. Lance Ruthford het 3 doelskoppe oorgeskop en Fortuin een.
DELICIOUS: Drieë deur Jowaine Zimri, John Liemand, Keanan Fredericks, Isaacs en Baron. Doelskoppe Werner Rode (3) en Ambrose Steyn een.

HOOFFOTO: Ryan Persence op volle vaart. FOTO: Roswall de Vries