Percy Williams: Die generaal van die Roses arsenaal

Percy Williams: Die generaal van die Roses arsenaal

September 5, 2018 2 By Shafiek Mouton

5 September 2018 11h57

WANNEER mens bietjie gaan loer na die argiewe van Rugby Wêreldbeker toernooie, is daar een ding wat die wenners van die William Webb Ellis trofee almal in gemeen het – almal het ‘n stêr-skrumskakel in hul geledere gehad.

Die 1987 Nieu Seeland span was puik gelei deur David Kirk uit die nommer 9 posisie. Dieselfde kan gesê word van Nick Farr Jones in 1991 wat ook bekend was vir sy blitsvinnige diens aan Michael Lynagh, die Wallaby losskakel. Joost van der Westhuizen het ‘n reuse rol gespeel in die sukses van die 1995 Bokke en sy dartel lopies en ongewone driedrukvermoë het menige spanne gekelder. George Gregan was sentraal in die seëvierende Aussies van 1999 se WB sukses en so ook Matt Dawson van Engeland in 2003.

Fourie du Preez het hom in 2007 gevestig as die voorste skrumskakel in die wêreld en het die mantel vir die daaropvolgende paar jaar gedra. Piri Wipu se veelsydigheid was baie bruikbaar vir die All Blacks in 2011 en Nieu Seeland se span van 2015 het toe al reeds die huidige voorste skrummie in die wêreld, Aaron Smith, agter hul wen pak gehad.

As ons terug huistoe kom, is Roses United sonder twyfel die mees suksesvolle Boland klub in die nuwe millenium. Die Rose, wat as klub maar slegs 18 jaar oud is, spog tans met nie minder as 6 Boland titels in die afgelope 12 jaar. ‘n Man wat sentraal is in Roses se titels en sukses, is ongetwyfeld hul spog skrumskakel, Percy Williams.

Sedert sy debuut as 17-jarige in 2006, het die nou 29-jarige Williams hom gevestig as een van die voorste spelers in die Boland. Soveel so, dat hy deur menige klubrugby ondersteuners as die voorste skrumskakel in die provinsie gereken word.

Gold Cup Captain, Thurlow Marsh,handing over the Pendant to Percy Williams, Club Captain.

Posted by Roses United Rugby Club on Friday, 1 September 2017

Hy word deur die Roses ondersteuners as hul generaal beskou en is wyd bekend vir sy vermoëns as wedstrydwenner. Hy het ‘n baie goeie diens na albei kante soos Smith en Farr Jones, is rats soos Joost van ouds, slinks soos Gregan, hardnekkig soos Dawson, lees ‘n wedstryd soos du Preez, kan nes Wipu losskakel speel indien nodig en lei soos Kirk wanneer hy moet. Voeg daarby dat Williams ‘n geleerde linkervoet het en vêr bo sy 73kg en 1.72m verdedig, en jy sit met ‘n uitstekende nommer 9.

Williams wat die Boland in alle ouderdomsgroepe, sewes en op amateur-vlak verteenwoordig het, het eintlik ‘n losskakel wie hy as sy gunsteling speler beskou. “Ek was maar nog altyd ‘n Jonny Wilkinson fan en hy is my groot held. Ek beskou egter ook Fourie du Preez as iemand op wie ek my spel skoei en sy ability om ‘n wedstryd te lees, spel te dikteer en spelers in spasie te sit, is iets wat ek altyd probeer naboots,” sê die voormalige Groenberg Primêr en Bergrivier Hoër leerder.

Op ‘n vraag of hy al opgegee het om die Kavalier trui te dra, antwoord hy selfvoldaan, “Ek het nog so 4 of 5 jaar se goeie rugby in my. As ek beserings vry bly, is daar geen rede hoekom ek nie nog vir Boland kan speel nie. Ek is nou baie ervare, verstaan die spel beter en het baie om te bied so ek glo ek sal geen Kavalier span in die steek laat nie,” sê die man wat “P-Boy” deur sy vriende en spanmaats genoem word.

Volgens Davie Lawrence, die invloedryke rugbykenner van die Boland Klubrugby Facebook-blad, is P-Boy onder die beste skrumskakels in die Boland. “Hy het ‘n uitstekende aangee en sy vermoë om situasies vining op te som en sy natuurlike aanvoeling vir die spel maak van hom ‘n bitter gevaarlike speler,” aldus Lawrence.

https://twitter.com/RosesUnitedRFC/status/932664391933284353

Williams, wat ook ‘n kranige krieketspeler is, se voormalige kaptein en tans direkteur van afrigting by Roses, Franzel September, sê dat sy skrumskakel dit absoluut haat om te verloor. “Percy is ‘n baie toegewyde speler wat dit haat as Roses die dag verloor. Hy bring kalmte na die span en as een van die leiers in die span, is hy defnitief iemand wat die jonger spelers na op kyk. Ons is baie gelukkig om hom in ons kamp te het. As wedstrydwenner het hy nie sy gelyke nie en sy ervaring is vir ons goud werd,” sê September.

Volgens Williams geniet hy net sy rugby maar hy voeg by dat hy gereed sal wees indien hy vir hoër louere opgeroep sou word. “Ek sal aanhou hard werk en my bes gee. Indien die oproep kom sal ek seker maak dat ek my kans met albei hande aangryp…”

Hooffoto: Williams kommunikeer met sy oë tydens verlede jaar se Gold Cup wedstryd teen die College Rovers in Durban. Foto: Henry Rutherford