Kavaliers ransel Arende af in Wellington

Shafiek Mouton 14/05/2018 20h37

DIE Boland Kavaliers het Saterdag sy wedstryd in die SuperSport Uitdaagreeks teen die SWD Arende in die Boland Stadion maklik met 37-12 gewen. Die tuisspan was rustyd reeds met 19-7 voor.

Die Arende se Leighton Eksteen (heelagter), het effens teen die verloop van die spel eerste punte aangeteken toe hy ‘n beweging wat in die besoekers se kwartgebied begin is, onder die pale afgerond en self verdoel het.

Die Kavaliers het egter daarna ontwaak en het vir die res van die eerste helfte gebiedsvoordeel en balbesit oorheers en die besoekers se deelname aan die wedstryd was slegs tot verdediging beperk.

Die Wynboere het die een aanval na die ander geloods en dit was veral hul binnesenter, Edwin Sass, wat die manne van George se verdediging telkens beproef het. Sass se twee driee in die eerste helfte asook die een van Jovelian de Koker (skrumskakel) het die tuisspan die oorhand besorg. Dit was ook de Koker se 50ste wedstryd in die Boland trui.

de Koker: Agter die doellyn gaan kuier. Foto: Brakkies Sport Fotos
Jovelian de Koker kuier agter die doellyn. Foto: Brakkies Sport Fotos

Die Arende kon nooit hul weg terug in die wedstryd veg nie en Boland het uiteindelik verspot maklik met 37-12 koning gekraai.

Voorlangs was Tapiwa Tsomondo (flank) en Marlyn Williams (slot) die groot uitblinkers vir die Boland terwyl Sass en Valentino Wellman (linkervleuel) die Arende talle hoofbrekens agterlangs besorg het.

PUNTEMAKERS:

Boland Kavaliers: Driee: Jovelian de Koker, Edwin Sass (2), Zandre Jordaan, Valentino Wellman en Sergio Torrens. Doelskoppe: Elgar Watts (2) en ‘n strafdoel deur Jacquin Jansen.

SWD Arende: Driee: Leighton Eksteen en Marlo van Niekerk en ‘n doelskop deur Eksteen.

Jacquin Jansen was suksesvol met 'n strafdoel. Foto: Brakkies Sport Foto
Jacquin Jansen was suksesvol met ‘n strafdoel. Foto: Brakkies Sport Foto

*Die Boland Kavaliers speel Saterdag teen die Oostelike Provinsie in die King Edward Sportgronde in Montague in sy volgende SuperSport Uitdaagreeks wedstryd. Ludio Williams (flank) het Saterdag die veld met ‘n been besering verlaat en daar bestaan twyfel oor sy beskikbaarheid vir die wedstryd. Indien Williams nie kan speel nie, kan Emile Booysen of Kenan Cronje hom vervang.

Die wedstryd skop om 14h30 af.

Hooffoto: Edwin Sass op die aanval. Foto: Brakkies Sport Fotos

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *