Kaptein Thurlow wil nog diep spore trap

Kaptein Thurlow wil nog diep spore trap

May 1, 2018 1 By Shafiek Mouton

ROSES United Rugby Klub het sedert sy ontstaan in 2000 nog altyd goeie, inspirerende leiers gehad. ‘n Mens dink onwillekeurig aan leiers soos Ricardo Williams, Ignatius Korabie en Franzel September wat almal Pelikaan Park legendes is.

Vir die afgelope paar jare word die Roses skip deur agsteman, Thurlow Marsh, gelei en is hy ook baie vinnig besig om hom in die anale van Roses te vestig as ‘n kaptein en speler van hoogstaande gehalte.

Dit wil voorkom asof die 25 jarige Marsh egter van kunsbeen af lei en die rol van kaptein pas hom dus soos ‘n handskoen. “Ek het my rugby tande by St Albans Primêr geslyp en was ook hoofseun daar en daarna het ek by Bergrivier Hoërskool aangesluit, was ook daar kaptein van die spanne waarin ek gespeel het en in 2010 het ek ook die toekenning ontvang vir die algehele beste presteerder in sport, kultuur en akademie. Ek was ook tot hoofseun verkies by Bergrivier en ek is baie verskuldig aan beide my alma maters”, sê Marsh.

THURLOW MARSH: Gebore leier

THURLOW MARSH: Gebore leier.

Hy het daarna by Newtons aangesluit en kort voor lank het hy die leisels as 18 jarige melkbaard daar ook oorgeneem. In 2012 het hy egter na Roses verhuis en die daaropvolgende jaar is hy verkies tot die Boland Rugby Akademie. “Die Akademie was die totale ommeswaai in my loopbaan. Ek was vir twee jaar gekontrakteer daar en dit het my rugby na die volgende vlak geneem. Ek was goed gekondisioneer en Coach Stanley (Raubenheimer) het my beskryf as ‘n speler met ‘n natuurlike aanvoeling vir die spel. Ek is tot vandag toe dankbaar vir daai geleentheid en ek het great rugby broers daar ontmoet”.

Marsh het sedertdien ontpop as ‘n uiters vaardige agsteman en ‘n baie goeie lynstaanspringer en ten spyte van die feit dat hy slegs 75kg weeg, is hy ‘n vreeslose en effektiewe baldraer en verdedig hy soos ‘n trojaan. “My gewig is beslis die groot ding wat my weerhou om die step-up na die next level te neem. My ouers is ook maar kleinerige mense en my gene doen my nie juis ‘n guns nie. Ek was destyds by die Akademie op ‘n spesiale program gesit om gewig aan te sit en het vir ‘n tyd lank glad nie aan veld sessies deelgeneem nie. SARU het toe ‘n “no supplements policy” bekragtig en ons plan was in die wiele gery. Ek droom egter nog steeds van die Boland Kavalier trui en glo sterk dat ek nog daai droom gaan bewaarheid”, se hy.

Marsh in aksie teen Newtons

Marsh in aksie teen Newtons

In 2017 het Roses onder Marsh se leiding ‘n droom seisoen beleef en is hulle as Boland kampioen gekroon en het sodoende deurgedring na SARU se Gold Cup. “Sjoe! 2017 was ‘n great seisoen vir ons. Ons het ‘n uitstekende afrigterskorps in Franzel September (Direkteur van afrigting), Danie Roman (hoof afrigter) en Clemen Lewis (voorspeler afrigter) asook baie goeie, ervare spelers gehad soos Cornal Hendricks, Jacquin Jansen en Brendon April en dit het my job as kaptein soveel makliker gemaak.

Thurlow en sy meisie Tasneem Jooste.

Thurlow en sy meisie Tasneem Jooste.

Volgens Herman Bailey Jnr, een van die meer ervare Roses spelers, is Marsh ‘n baie populere lid van die groep op en vanaf die veld. “Thurlow se vermoee om rigting te gee wanneer dinge besig is om uitmekaar te val is vir my een van sy sterkpunte. Hy is ook ‘n inspirerende leier wat deur sy voorbeeld lei. Sy nederigheid spreek ook boekdele van hom as mens. Ons is bevoorreg om hom as ons leier te het”, aldus Bailey.

Marsh verwys ook na Hendricks as een van sy groot helde en sien ook op na Kieran Read van Nieu Seeland. “Cornal is die nederigste top rugbyspeler wie ek ken. Hy is by uistek ‘n gemeenskapsman en ‘n absolute toonbeeld van ‘n goeie rolmodel, ek kyk baie op na hom. Read is ‘n great speler en leier van die Crusaders en die All Blacks en beslis iemand vir wie ek baie hoe agting het”. Ek het ook die grootste respek en admirasie vir my mentors Mnr Francois Davids en Mnr Willie Small”.

Thurlow, wat verlede jaar die Rose se speler van die jaar was, het alreeds in 2018 sukses saam Roses geproe deur die Transnet Saldanha Paastoernooi te wen en as dit van hom afhang gaan Roses een van die dae ‘n groter trofee kabinet nodig het. “Ons het redelik goed gevaar in die Gold Cup en ek glo Roses kan Boland Klubrugby vir die volgende paar jaar domineer en een van my groot loopbaan aspirasies is om die Gold Cup te wen”, se die polisie konstabel van beroep.

Met Kaptein Marsh aan die stuur van die Roses skip, is bitter min tans onmoontlik vir die manne van Pelikaan Park…