Hillies en Roses meet kragte in Wellington derby

Hillies en Roses meet kragte in Wellington derby

June 1, 2019 0 By Shafiek Mouton

13h55

DIE Wellingtonse rugby gemeenskap is vandag verdeeld wanneer Hillcrest United en Roses United mekaar in ‘n Wellingtonse derby op Boland Stadion pak.

Albei spanne behaal gemengde welslae vanjaar en sal dus alles in die stryd werp om as oorwinnaar van die veld te stap. Roses het Saterdag teen die verwagting op sy tuisveld slae gekry teen Ceres terwyl Hillies ‘n oortuigende oorwinning teen Saron behaal het.

Daar word in sekere kringe gefluister dat Hillcrest as gunsteling in die derby ingaan maar dis iets wat Reggie Manuel, Hillcrest se afrigter, ontken. “As jy gaan kyk na die geskiedenis dan moét Roses die gunsteling wees. Hulle is ook ‘n punt voor ons op die punteleer so ek koop nie die feit dat ons by sommige as gunsteling beskou word nie,” aldus die Hillies breier.

Reggie Manuel tydens ‘n vorige wedstryd. Foto: Roswall de Vries

Hy sê voorts dat daar dié slag bietjie meer intrige in die derby is. “Almal weet dat daar spelers en afrigters van beide spanne die een klub vir die ander verlaat het wat die hele derby meer spicy maak. Op die einde van die dag wil almal mekaar opkuil vir 80 minute maar daarna is almal weer vriende en dis goed vir ons dorp in sy geheel.”

Roses afrigter Franzel September in ‘n ligte luim. Foto: Roswall de Vries

Franzel September, Roses se afrigter sien uit na ‘n goeie wedstryd. “Ons lê tans 3de en het nog nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie maar sien daarna uit om weer goeie, opwindende rugby te speel en dis die tipe spel waarvoor Roses bekend is. Ons is vol selfvertroue dat ons die knoop kan deurhak,” het September afgesluit

Die wedstryd skop om 17h30.

Hooffoto: Denshir de Koker (F7 Media)