Emile Booysen: Van beseringsvoël tot Kavalier

EMILE Booysen, flank en kaptein van Hillcrest United is ‘n man van min woorde. Hy verkies om die praatwerk met sy kookwater spel tussen die vier lyne te doen. Die voormalige leerder van Bergrivier Hoër is onlangs vir die Boland Kavaliers se SuperSport Uitdaagbeker span gekies na hy twee skitterende seisoene by Hillies beleef het.

“Ek het in 2016 besluit om flank toe te skuif na ek aanvanklik vleuel en heelagter gespeel het. Ek was terselfdertyd ook die kapteinskap aangebied na Geoffrey (Allies) en Lee-Heino (Appollis) beseer is en ek het vining in die leierskap rol en nuwe posisie gegroei en het toe week na week goeie rugby gespeel. Ons het daai jaar die Boland Top 8 kompetisie gehaal maar het egter in die kwarteindstryd teen Robertson Town vasgeval. In 2017 het ek en die span deurgaans goed vertoon en weer die Top 8 gehaal maar ongelukkig weer teen Town verloor- die slag in die semi-finaal,” se die 29 jarige verkoopsman van Cash Crusaders.

Hillcrest kaptein. Foto: Roswall de Vries
Gentle giant. Foto: Roswall de Vries

Booysen se paadjie tot die Kavaliers is ‘n interessante een wat besaai was met dorings in die vorm van beserings en terugslae. “Ek het reeds in 2009 by Hillcrest aangesluit en in die agterlyn gespeel. In 2014 het ek by Primrose in die Westelike Provinsie gaan speel maar het egter ‘n ernstige besering opgedoen.  Ek het in die tweede helfte van die 2015 my terugkeer by Hillcrest gemaak en kon slegs in ‘n handvol wedstryde gespeel. Dit was ook die tweede keer dat ek ‘n been gebreek het en die tye langs die kantlyn was uiters frustrerend vir my”.

Booysen, wat nes sy held, Siya Kolisi, gemaklik is op nommers 6 en 7, het sedert 2016 die velde in die Boland aan die brand gespeel en sodoende Hillies se groot held geword. “By Hillcrest is daar liefde, omgee en ondersteuning van die fans en daar is ‘n broederskap onder die spelers en dis van die redes hoekom ek daar speel”.

Emile se uithaler vertonings in die blou en geel trui het ook die oog van die Boland keurders gevang en is hy in die Boland Elite groep gekies en verlede week is hy ook ingesluit in die Boland Kavaliers se SuperSport Uitdaagbeker. “My doelwit is nou om ‘n plek in die span oop te spel asook om ‘n kontrak by Boland te verwerf. Ek glo as ek aanhou hard werk en met hulp van Bo is niks onmoontlik nie”.

Hulp van BO. Foto: Roswall de Vries
Hulp van BO. Foto: Roswall de Vries

Volgens Reggie Manuel, hoofafrigter van Hillcrest, is Booysen ‘n kaptein en speler duisend. “Ek kan nie uitgepraat raak oor Emile nie. Hy is baie nederig vanaf die veld en ‘n absolute monster op dit. Hy is toegewyd en hardwerkend en ‘n man wat deur sy optrede lei. Hy het klein begin maar intussen ontaard in een van die groot name in Wellington en Boland rugby. By Hillies is hy bekend as “Liefie” en dis ‘n naam wat hom soos ‘n handskoen pas,” aldus Manuel.

Indien Booysen wat 101kg weeg en 1.85m lank is, sy spelpeil van die afgelope paar seisoene in Boland klubrugby kan herhaal op provinsiale vlak, gaan die spanne in die SuperSport Uitdaagbeker gou kennis neem van ‘n sekere Emile Booysen van Wellington…

13 thoughts on “Emile Booysen: Van beseringsvoël tot Kavalier”

  1. Een van Hillies se beste spelers baie nederig van die held af en doen sy ding tussen die vierlyne. Knap gedaan Emile

  2. n speler…wat my vrind geraak ht en nou beskou ek hom as my broer…niemand anders as my kaptein … goeie berig shafiek…nederig en rerig waar n top rugby speler…trots op jo “liefie”…mag j hoogtes bereik cap…

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *