Boland se Sass sluit aan by Griekwas

Boland se Sass sluit aan by Griekwas

August 6, 2018 0 By Shafiek Mouton

8 Julie 2018 23h26

DIE kookwater binnesenter, Edwin Sass, is vir die Boland verlore. Hy het hom vandeesweek by Griekwas in Kimberley aangesluit en sal vir die Kwaste in die Curriebeker reeks uitdraf.

Sass, wat 50 wedstryde vir die Kavaliers gespeel het sedert sy debuut in 2014, is baie opgewonde oor sy skuif. “Om by Griekwas aan te sluit is amazing en ‘n groot geleentheid vir my. Eks baie excited oor die kans en ek sien baie daarna uit om ‘n positiewe verskil te maak. Ek is baie dankbaar vir die Hemelse Vader vir die geleenthede wat hy vir my skep om my talente uit te leef,” sê die 25 jarige Sass.

FLAIR: Sass se balverspreiding, plettervatte en organiseringsvermoëns gaan gemis word. Foto: Gallo Images

Die boorling van Eersterivier was skitterend vir die Boland in die onlangse Supersport Uitdaagreeks en Randall Modiba (Boland afrigter) gaan beslis sy teenwoordigheid in die Boland middelveld mis. Met Sass wat verhuis en Andries Viljoen wat Saterdag vroeg in die wedstryd teen die Blou Bulle met ‘n kop besering van die veld af is, is die Boland se senter-spens skielik baie uitgedun. Valentino Wellman, wat gewoonlik vleuel speel, het Saterdag binnesenter gespeel met Tyrone Abelse wat Viljoen na 6 minute op buitesenter vervang het. Abelse, van Roses United, het stewig vertoon en kan nou aanspraak maak op ‘n plek in die begin vyftiental. Hy is ook veelsydig en kan op binne- en buitesenter diens doen.

OPVOLGER? Tyrone Abelse en Sass se vaarwel. Foto: Verskaf

Sass het vanjaar ook diens gedoen as agterlyn konsultant by Roses en was ‘n gewilde lid van die Rose se afrigterskorps. “Die tyd wat ek by Roses was, was great. Ek het baie geleer by manne soos Franzel September en Clemen Lewis wat by die club coach. Hulle is goeie afrigters en ons het goeie vriende geword. Daar is baie goeie jong spelers by die klub en ek wil almal by Roses sterkte toewens vir die res van die seisoen. Hulle moet aanhou hard werk en die sisteem vertrou en die sukses sal volg.”

Sass, wat in Tulbagh gebore is, sê dat sy vrou, Danneline sy grootste ondersteuner is. “My vrou is my inspirasie, sy is altyd daar vir my maar skroom nie om my te kritiseer as ek ‘n fout begaan nie. Ek is haar baie dank veskuldig.”

Die voormalige Tygerberg Hoër leerder beskou die All Black senter, Ma’a Nonu, as sy groot held en hou ook van die Springbok senter, Juan de Jongh se spel.

Sass kan beslis vanjaar ‘n impak by Griekwas maak en ‘n senter kombinasie bestaande uit Sass en ‘n ander voormalige Boland senter, Johnathan Francke, kan beslis die lewe moeilik maak vir die ander senters in die kompetisie.

Hooffoto: Brakkies Sport Fotos